"WAAR POTENSIAAL VERWESENLIK WORD!"
  041 360 1257
Month:
Author:
Category:
  Search

Japan toer was onvergeetlik

BY W Rauch

Ons rugbyspan wat verlede Donderdag uit Japan teruggekeer het, het die ondervinding van ‘n leeftyd beleef tydens die besoek van twee weke. Framesby is in 2017 reeds deur die Suid-Afrikaanse Rugby-unie aangewys om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Sanix World Rugby Youth Tournament wat in Fukuoka, Japan, aangebied is. Vroeg vanjaar is ons deur die Shizuoka-prefektuur genader om ons reis met 3 dae te verleng ten einde deel te wees van ‘n geskiedkundige geleentheid waartydens ’n aftelbord aangeskakel is om die 500 dae na die Rugby-wêreldbeker in 2019 af te tel. Alhoewel ons ongelukkig nie ons doelwit om onder die eerste vier spanne in die toernooi te eindig, kon bereilk nie, het Framesby steeds ongelooflik goed gevaar. Nadat ons teleurstellend ons eerste wedstryd teen Fukuoka High School verloor het, het die span die volgende twee wedstryde met baie goeie spel gemaklik gewen en so deurgedring na die kompetisie om die eerste tot agste plekke. Ten einde vir die top-4 te kwalifiseer moes ons die span van Fiji klop. Tot op daardie stadium het hulle alle teenstand letterlik uit hulle pad gevee. Die Framesby-manne het egter nie teruggestaan nie en in ’n klipharde wedstryd, wat in stortreën gespeel is, is die Fijiane keer op keer gestuit en teruggeduik. Die halftydtelling was 7 – 0 in ons guns. In die tweede helfte het Fiji hul spelpatroon verander en het hulle groter druk op ons begin toepas. ’n Paar skokkende besluite deur die Australiese skeidsregter het dinge nie makliker gemaak nie en is hulle beloon met ’n drie om die telling gelyk te maak. Met 5 minute oor het ons weer aan
die korste ent van ’n baie verdagte beslissing getrek en het hulle die wendrie aangeteken. Ons verloor 7 – 14, maar stap van die veld met ons koppe hoog. Lanklaas het ’n Framesby-span soveel karakter gewys! In die volgende wedstryd het ons korte mette gemaak met die span van Nagasaki en in die laaste wedstryd moes ons weer kragte meet met Fukuoka ten einde te bepaal wie eindig 5de. Hierdie wedstryd sal hopelik die res van ons seisoen definieer, want ’n span wat ná ’n onbeholpe eerste helfte hulself kan regruk en met ’n massiewe spanpoging ’n agterstand van 7 – 22 kan uitwis om die wedstryd in die doodsnikke met 38 -36 te wen, kan enige uitdaging die hoof bied. Framesby kan ongelooflik trots wees op hierdie manne!
Ná hierdie hoogtepunt kon niks ons regtig voorberei vir die ongelooflike avontuur wat in Shizuoka op ons gewag het nie. Op Sondag 6 Mei is ons na die Kokura-stasie geneem waar ons die Shikansen (die “bullet train”) na Shizuoka moes haal en daarmee het die avontuur begin. Ná ’n reis van amper 5 uur teen 300 km/h is ons na ’n luukse hotel geneem waar ons vir die volgende 3 nagte sou tuisgaan. Daardie aand is die span as eregaste onthaal by ’n feestelike verwelkomingsfunksie wat deur die burgemeester van Kakegawa aangebied is. By die geleentheid is ons getrakteer deur plaaslike hoërskoolleerders met ’n tradisionele opvoering. Die volgende dag het ons die plaaslike teemuseum besoek waarna ons geneem is na ’n hoërskool waar ons manne bietjie blootgestel is aan Japanese swaardkuns, judo, kalligrafie en ’n formele Japanese teeseremonie. Ons moes almal ons skoene uittrek en het die middag deurgebring met “slippers” wat almal omtrent twee nommers te klein was! Op Dinsdag 8 Mei het ons eers ’n groot winkelsentrum besoek en het daarna vertrek na die Shizuoka Ecopa Stadion waar verskeie wedstryde in die 2019-Wêreldbekertoernooi gespeel gaan word. Ons kleedkamer was omtrent so groot soos twee klaskamers en die veld het soos ’n tapyt gelyk! Voor ons wedstryd was ons eers deel van ’n ongelooflike onthullingseremonie en daarna het ons in gietende reën ’n plaaslike “all-star” hoërskolespan gepak. Al ons spelers het speelkans gekry en uiteindelik het ons met 62 – 0 geseëvier. ’n Gepaste kersie op die ongelooflikste koek!
Japan is ’n ongelooflike land en nie een van die spanlede sal hierdie avontuur ooit vergeet nie!

 May 31, 2018
Comments (0)
Rugby
W Rauch

Leave a comment

Hou my op datum?
U boodskap sal eers na goedkeuring vertoon.

Hoërskool Framesby:  "Waar potensiaal verwesenlik word"

Nec-eastcapesmall
Klinicare-logo
Vox-green-logo-vector-1
Puma-logo-f9e13b654c-seeklogocom
Sunridge-superspar

OK / Close
Who doesn't like cookies?
This website uses cookies to ensure you get the best experience. Read more...