HANDHAAF EN BOU TOEKENNING
Die hoogste eerbewys wat die Hoërskool Framesby aan ‘n oud-leerder of oudonderwyser kan verleen.
Met die 50-jarige feesvieringe van 2016 is daar besluit om op tasbare wyse erkenning te verleen aan oud-leerders wat ná skool besonder presteer het, of wat binne hul beroepsveld uitgestyg het. Hierdie erkenning word gedoen in die vorm van die Handhaaf en Bou-toekenning. Hierdie toekenning is die hoogste eerbewys wat die Hoërskool Framesby aan ‘n oud-leerder of oudonderwyser kan verleen.
Tot dusver is toekennings aan verskeie sportmanne en –vroue gemaak wat almal Suid-Afrika verteenwoordig het. Hulle is Johnny Koen, Sandra Pienaar, Heidi Seyerling, Maryke Doubell en Elandré van der Berg. Die toekenning is ook gemaak aan Amanda Strydom en Juanita Lamprecht Van Dyk vir hul besondere bydrae tot die uitvoerende kunste.
Die kriteria vir die toekenning van die Handhaaf en Bou-toekenning is:
- Die ontvanger moes aan die Hoërskool Framesby gematrikuleer het of op die onderwyspersoneel gedien het.
- Die ontvanger moet binne sy of haar spesialiteitsgebied ‘n toonbeeld van uitnemendheid wees en op die hoogste vlak presteer of presteer
het. - Die ontvanger moet algemeen erken word as ‘n toonaangewende leier binne sy of haar spesialiteitsveld.
- Die ontvanger moet onomwonde kan dien as ‘n rolmodel vir die huidige geslag Framesby-leerders.
Nominasies moet aan me. Martlie Jordaan gerig word by mjordaan@framesby.co.za. Alle nominasies moet me. Jordaan voor of op 31
Julie bereik.
2019 handhaaf en bou toekenning ontvanger
Johann Louw
Johann het vir Hoërskool Framesby se eerste krieketspan gespeel vanaf 1995 tot 1997. Hy het ook vir Suid-Afrika, Boland, Cape Cobras, Dolphins, Eagles, Oostelike Provinsie, Griekwas, Middlesex en Northamptonshire in England gespeel. Hy verteenwoordig Suid-Afrika in drie eendagwedstryde en twee T20 wedstryde. Johann het die hoogste kolf treftempo in eendag internasionale wedstryde, naamlik 328,57.
Johann is ‘n besondere nederige persoon en deur harde werk en toegewydheid het hy Hoërskool Framesby se naam uitgedra op die hoogste vlak. ‘n Ware ambassadeur vir Hoërskool Framesby.
2018 HANDHAAF EN BOU TOEKENNING ONTVANGER
Mona Pretorius
Mona ontvang die toekenning vir die besondere wyse waarop sy, deur middel van haar prestasies in gewigoptel, die skool se naam uitgebou het.
Mona het onder andere al oor die 60 SA rekords gebreek en verteenwoordig SA by die Olimpiese Spele in 2020! Haar mees onlangse prestasies sluit in:
- Goue medalje by die 2018 Afrika Kampioenskappe
- Brons medalje by die 2018 Common Wealth Games
- USA National Referee (2018)
- Goue medalje by die 2017 "Texas State Weight Lifting Championships"
Baie geluk aan Mona, Framesby is baie trots op jou prestasies!
Hoërskool Framesby: "Waar potensiaal verwesenlik word"