"WAAR POTENSIAAL VERWESENLIK WORD!"
  041 360 1257
Month:
Author:
Category:
  Search

50 JAAR VAN UITNEMENHEID IN AFRIKAANS

BY W Rauch

Hoërskool Framesby High School
1966 - 1973
Op 19 Januarie 1966 betrek 117 Standerd 6’e (Graad 8’s) die nuwe skool in Framesby saam met 9 personeellede onder leiding van mnr. Dirk Visser. Die groep het bestaan uit 50 Afrikaanssprekende en 67 Engelssprekende leerders. Vir die volgende 8 jaar sou hierdie skool dubbelmedium-onderrig aanbied totdat ‘n tweede nuwe skool, wat in Westering gebou sou word, as Engelsmedium-hoërskool sy deure open. Westering High School het in 1970 sy deure geopen vir Standerd 6-leerders en geen nuwe Engelsprekende leerders kon voortaan meer by Framesby inskryf nie. Aan die einde van 1973 het die laaste groep Engelssprekende leerders aan Framesby gematrikuleer en vanaf Januarie 1974 staan die Hoërskool Framesby sy plek breëbors vol as die jongste Afrikaansmedium-hoërskool in die Oos-Kaap. Alhoewel Framesby nie meer Engelssprekende leerders kon huisves nie, word daar met baie groot waardering hulde gebring aan die Engelssprekende leerders wat in die eerste jare Framesby hul tuiste gemaak het, en saam gebou het aan die unieke karakter van die skool.
In die eerste 8 jaar van sy bestaan is die fondamente gelê waarop vandag steeds voortgebou word. Van begin is die kernwaardes vanuit ‘n Christelike perspektief hier gevestig en het die strewe na uitnemendheid op akademiese gebied, en ook op sport-en kultuurgebied, die karakter van die skool gevorm. Terselfdertyd het die skoolgemeenskap in die omliggende woonbuurte van Framesby, Westering, Linton Grange, Kabegapark, Sunridgepark, Cotswold en Lorraine hul gewig agter hierdie skool ingegooi. Een van die uitstaande kenmerke van daardie beginjare was juis die besondere wyse waarop die personeel, leerders en ouers saam skouer aan die wiel gesit het om Framesby binne ‘n baie kort tydjie te vestig as ‘n opvoedkundige pronkstuk.
Die skooldrag en skoolwapen is ontwerp en geregistreer, en buitemuurse aktiwiteite is in alle erns begin. Teen 1973 het die
skool reeds gespog met voldoende sportgeriewe en ‘n splinternuwe skoolsaal. Van die eerste jaar af het Framesby-leerders hulle stempel begin afdruk en was dit duidelik dat ‘n reus besig is
om in die westelike voorstede te ontwaak. Niks illustreer hierdie wil om te presteer beter as die verowering van in jare is die “magtige” Pearson onttroon en is ‘n era ingelui waarin Framesby die atletiektoneel in die Oostelike Provinsie totaal sou oorheers. Rugby, netbal en tennis het ook nie op hulle laat wag nie en teen 1973 was die eerste netbalspan reeds ‘n tweede jaar onoorwonne terwyl die rugbyspanne hulle deeglik laat geld het. Op kultuurgebied het Framesby veral op musiekgebied uitgeblink met wonderlike individuele talent, ‘n uitstaande koor en orkes. Toneel, debat en redenaars is ook baie suksesvol bedryf. Die tafel was gedek vir die nuwe era wat in 1974 sou begin: Die geboorte van Hoërskool Framesby en die begin van Handhaaf en Bou!


1974
Hoërskool Framesby
Die begin van ‘n nuwe era – Handhaaf en Bou!
Met die totstandkoming van die skool in 1966 is daar besluit om die naam van die skool te koppel aan die naam van die woonbuurt, en dat daat besluit sal word op ‘n meer “gepaste” Afrikaanse naam wanneer die skool Afrikaansmedium sou word. Een van die vroeë gunstelinge was die Hoërskool Patriot, maar teen 1974 was die naam Framesby reeds só gevestig dat daar besluit is dat die skool voortaan as Hoërskool Framesby bekend sal staan. Die skoolwapen is behou, maar die leuse Conserva et Extrue is verander na die Afrikaanse vertaling Handhaaf en Bou. ‘n Besondere skoolied, in keurige Afrikaans, is deur W.J.C. Visser geskryf en in April 1974 is die lied getoonset deur Professor J.H. Potgieter. Hierdie skoollied is word steeds met groot agting en trots gesing, en dien as ‘n herinnering aan dit waarvoor die Hoërskool Framesby staan”


Te handhaaf en bou is ons leuse,
dit na te volg eie keuse.
Ons neem al die mooi uit ons roemryk verlede,
en bou daarop graag 'n eervolle hede.
Wat sal skitter en blink soos die jare wyd kring,
As 'n taak met voldoening volbring.


Kan die karakter van Framesby beter in woorde uitgedruk word? Daar is oor die afgelope 58 jaar reeds só baie tradisies gevestig, wonderlike prestasies behaal, terugslae oorkom en bloed gesweet om fasiliteite daar te stel sodat hierdie skool toegeruste en gebalanseerde jong volwassenes die wêreld kon instuur. Voorwaar
‘n BAIE roemryke verlede waarop gebou moet word, maar waarvan dit wat van waarde is gehandhaaf moet word.
Die manier waarop die verlede werklik na waarde gehuldig kan word, is dat elke nuwe geslag moet streef daarna om ‘n eervolle hede te bou, ‘n hede waarna toekomstige geslagte kan verwys as hul roemryke verlede. En dan die kern van die lied: Ons doen al hierdie dinge sodat die verlede en die hede in die toekoms sal skitter en blink, en dat daar met voldoening daarna teruggekyk kan word. En as bewys van al die hedes wat vandag verledes is, en wat steeds skitter en blink, kan ons net kyk na al die oud-leerders wat vandag hul plek in die wêreld volstaan. Daar is so baie wat die hoogste sport in hul loopbane bereik het, maar daar is soveel meer wat binne hul gemeenskappe pilare is van uitnemendheid, omgee en hoop. Die Hoërskool Framesby kan met voldoening terugkyk en alle eer aan ons Hemelse Vader bring.
Hierdie karakter van Handhaaf en Bou is vandag steeds die hoeksteen van Hoërskool Framesby en daar word met groot toewyding elke dag gewerk daaraan die mees eervolle hede moontlik te bou. Die prestasies van die skool en die uitbreiding van die fasiliteite getuig van ‘n vasberadenheid om die skool as dié toonaangewende opvoedkundige instelling in die Oos-Kaap te vestig, terwyl dieselfde waardes wat reeds van die eerste jare af hier vasgelê is, steeds die kern vorm van die waardesisteem waarmee die leerders toegerus word.
Mag Hoërskool Framesby altyd Handhaaf en Bou, en die tuiste bly van mense vir wie Afrikaans hul trots is.Ons staan vir niemand terug nie!

 July 26, 2024
Comments (0)
Algemeen
W Rauch

Leave a comment

Hou my op datum?
U boodskap sal eers na goedkeuring vertoon.

Hoërskool Framesby:  "Waar potensiaal verwesenlik word"

Nec-eastcapesmall
Klinicare-logo
Vox-green-logo-vector-1
Puma-logo-f9e13b654c-seeklogocom
Sunridge-superspar

OK / Close
Who doesn't like cookies?
This website uses cookies to ensure you get the best experience. Read more...